Impak Onderwysdiens BK (CK2005/041089/23)

 
 
 
 

Welkom by Impak Onderwysdiens!

 
IMPAK KONGRES NOORD KAAP - 14 Augustus 2010
IMPAK EN DELTA BESOEK NAMIBIE! - 31 JULIE - 12 AUGUSTUS
CVO Magalies Karnaval 4 September 2010
Die onderstaande skrifgedeeltes was die grondslag vir die bestaan van 
Impak Onderwysdiens!

Jes. 43: 18 en 19
Vers 18: Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.
Vers 19: Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

Hierdie skrif vorm reeds vir agt vreugdevolle jare die hoeksteen van Impak se sukses en groei en is die grondslag vir ons hoop op 'n roepingsvervullende toekoms.

Sonder enige finansiële steun het die ses stigterslede van Impak die onmoontlike in geloof aangepak. Binne die eerste weke was 43 vakskrywers besig om hulle vakkennis in Impak se bekende handleidings en ouergidse in te giet. Drie grafiese kunstenaars het die vakskrywers se idees in pragtige lesse omskep en Impak se ses personeellede kon teen 15 Julie 2002 reeds kwartaal 3 se werk aan 234 leerders uitpos! Geloof, volharding en harde werk verskuif berge!

Sedert daardie eerste treë het Impak gegroei tot 'n gerespekteerde krag in tuisonderwys met reeds 24 voltydse werknemers, meer as 3000 tuisleerders, en meer as 40 hulpsentrums versprei oor die lengte en breedte van die land! Impak het 'n puik, hoë kwaliteit produk ontwikkel wat afstand- en tuisonderrig van graad 00 tot 12 'n werklikheid maak. Die produk bestaan uit handleidings en ouergidse, toetse, eksamens, rapporte, videolesse op DVD vir 'n uitgebreide vakspektrum en Impak Digitaal. Pieter en Elize se huis moes vir 4 jaar ook as kantoor dien. Uiteindelik kon Impak Pieter en Elize se huis en nog drie aangrensende persele aankoop waarop daar D.V. in 2008 'n splinternuwe Impak hoofkantoor gaan verrys. Kragtige rekenaarstelsels is aangekoop en geïmplementeer om die effektiwiteit van die hantering en verwerking van alle kliëntedata, die administrasie, die finansies en rapporte te verhoog. 

Daar is reeds 5 nasionale kongresse in Pretoria en 3 streekskongresse in die Kaap en Namibië aangebied. Hierbenewens het Impak ook nog elke jaar suksesvolle avontuur- en leierskampe aangebied. Meer as 400 matrieks het reeds sedert Impak se ontstaan suksesvol gematrikuleer en verlede jaar is 'n slaagsyfer onder tuisleerders van 93% aangeteken met 'n gesonde oes A's en 'n beduidende aantal kandidate wat spog met twee, drie en selfs vier onderskeidings! Internasionale skakeling met invloedryke buitelandse onderwys-owerhede en universiteite is bewerkstellig met die gevolg dat Impak se suksesvolle Graad 12's die opsie het om hul studies oor afstand aan buitelandse universiteite te onderneem.

Hoë berge van uitdaging staar onderwys en opleiding in Suid-Afrika in die gesig. Impak wil in die jare wat voorlê op die voorpunt wees om daardie berge in vasberade geloof, harde werk en vindingryke oplossings klein te kry.

Hy wat bereid is om die berg te klim, sal die vlakte sien!

Web design and Hosting by Sulaco New Media built using FastSite CMS